Wednesday, March 19, 2008

Willie weet, want Oom Paul het gesê...


Willie weet, want Oom Paul het gesê. Die leser weet seker nie wat Oom Paul alles gesê het nie of waarna Willie verwys nie. Maar Willie weet. Sien Willie het hier van die kantlyn die gebeure in Bravoland aanskou. Willie het gesien hoe die burgers bekommerd was oor Bravoland. Hoe die burgers gewonder het oor die voortbestaan van Bravoland. Willie was nie bekommerd nie, want Willie weet Oom Paul het gesê. As die burgers maar net weer gaan lees het wat Oom Paul gesê het, sou hulle ook geweet het. Oom Paul het tog ook gesê: "Want wie vir hom 'n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie." Willie weet die volk was al gereeld platgeslaan maar het altyd weer opgestaan. Na die ABO was dit ook so. Toe die boere terug kom op die plase was daar niks. Dit het hulle nie onder gekry nie. Niks kry HIERDIE volk onder nie. Willie sien dieselfde ding gebeur in Bravoland. Willie sien die forum word oor gebou. Willie sien die hulp aan die volk wat verarm. Willie sien die spaarklub wat op die been kom. Willie sien die kultuurdag wat gereël word. Maar Willie sien meer. Willie weet dat niks van hierdie positiewe dinge sou gebeur het, was dit nie vir daardie een eienskap van ons volk, wat die vyande van die volk altyd onderskat nie. Dit was juis hierdie sterk eienskap van ons volk waarvan Oom Paul gepraat het: "Dit stem my eweneens tot dankbaarheid om te sien dat die eenheid, die eendrag by u regeer." Dit was juis hierdie eendragtigheid wat ons volk se redding was. Telkemale. Willie weet dat die Bravolander nodig het om die volgende woorde van Oom Paul te hoor: "Dit is waar dat baie van wat opgebou is, tans vernietig is, verniel, geval. Tog kan met eenheid van sin en eenheid van krag weer opgerig word wat tans ondergeploeg is." Die Bravolanders het dit reeds in Bravoland begin doen. Vandag Bravoland, môre die wêreld! Willie weet! Groetnis, Willie Weetals

No comments: