Saturday, January 19, 2008

Willie wil ook sien


Willie sien 'n ding kom, 'n ding waarvoor Willie al lankal wag. Dit beteken nou nie dat Willie nou Siener Weetals is nie, om Weetals te wees, beteken nie dat Willie die toekoms moet kan voorspel of "sien" nie. Daar het egter 'n paar dinge gebeur wat vir Willie beteken dat daar 'n ding kom, want Willie sien helder wat om hom aangaan maar dit beteken nie dat hy nou gesigte sien of heldersiende geword het nie.

Nou wonder die leser seker wat is die ding wat Willie weet wat kom, want die leser weet seker nie ook alles nie, Willie weet, want Willie Weetals...

Laat Willie egter by die begin begin, want dit is 'n baie beter plek om te begin as om by die einde te begin. Sienende dat dit iets is wat Willie gesien het, gaan Willie hierdie ding verduidelik soos iets wat iemand "gesien" het.

Willie sien 'n bult agter hom, hy loop tot bo-op die bult en sien in die verte 'n groot teerpad. Op die teerpad ry daar 'n oranje, wit en blou voertuig met 'n bleskop-man agter die stuur. Daar staan 'n menigte swart mense langs die pad wat opgelaai wil word. Die mense agter in die voertuig sê egter dat die bleskop-man hulle nie moet oplaai nie, want die mense agter in die voertuig het reeds betaal dat die menigte langs die pad hulle eie voertuie kan koop. Die mense langs die pad het egter nie mooi gekyk na hulle voertuie nie en die staan nou stukkend langs die pad. Die mense langs die pad is nou baie jaloers op die oranje, wit en blou voertuig. Weer betaal die mense agter in die voertuig om dié langs die pad se voertuie te laat regmaak. Die mense langs die pad kyk steeds nie mooi na hulle eie voertuie en wil graag die oranje, wit en blou voertuig hê.

Die bestuurder van die oranje, wit en blou voertuig is nou bang vir al die mense langs die pad, want hulle begin in die pad te dans en hy moet gereeld uitswaai. Van die mense agter in die voertuig sê dat hy oor hulle moet ry, want nou gooi hulle selfs klippe na die oranje, wit en blou voertuig. Die bleskop-man het nou 'n geel pak aan. Hy sê vir die mense agter in die voertuig dat hy net gou met die mense langs die pad wil praat, maar net as hulle ophou klippe gooi.

Hy stop die oranje, wit en blou voertuig en begin met die mense langs die pad te praat. Hulle druk 'n paar sente in sy hand en spring in die voertuig. Van die mense agter in die voertuig klim uit en spring op vliegtuie, weg – vir altyd! Ander word wreed by die voertuig uitgegooi. Die mooi pad is nou 'n grondpad, hoe verder die pad aangaan en nader kom aan Willie, hoe groter is die gate in die pad en hoe meer van die mense wat agter sit word wreed uitgegooi. Die voertuig is nie meer oranje, wit en blou nie, dit lyk nou soos 'n reënboog...

Dan snel die voertuig buite beheer verby Willie. Daar is nou nie meer 'n pad nie, die voertuig jaag sommer deur die veld. Van die mense agter in voertuig, wat nog die hele tyd aan die slaap was, word nou wakker, die een na die ander. Saggies begin hulle te kla dat die rit nou te rof is en dat te veel by die voertuig uitgegooi word. Ook kla hulle dat die eens mooi voertuig nie meer in so ’n goeie toestand is nie omdat die nuwe drywer nie na die voertuig kyk nie.

Die nuwe drywer luister nie na hulle nie, want hulle is baie en die wat agter sit is min...

Dan sien Willie 'n snaakse ding, die mense agter in die voertuig het nou hulle eie voertuig, dit is maar 'n klein voertuig, maar 'n mooi voertuig... dan word hierdie voertuig groter en die mense wat nog geslaap het agter in die reënboogvoertuig spring ook nou daarin. Die nuwe voertuig ry nou weer op 'n mooi gladde nuwe pad en in die verte sien Willie die ou voertuig het gebreek en staan nou doodstil...

No comments: