Wednesday, March 19, 2008

Willie weet, want Oom Paul het gesê...


Willie weet, want Oom Paul het gesê. Die leser weet seker nie wat Oom Paul alles gesê het nie of waarna Willie verwys nie. Maar Willie weet. Sien Willie het hier van die kantlyn die gebeure in Bravoland aanskou. Willie het gesien hoe die burgers bekommerd was oor Bravoland. Hoe die burgers gewonder het oor die voortbestaan van Bravoland. Willie was nie bekommerd nie, want Willie weet Oom Paul het gesê. As die burgers maar net weer gaan lees het wat Oom Paul gesê het, sou hulle ook geweet het. Oom Paul het tog ook gesê: "Want wie vir hom 'n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie." Willie weet die volk was al gereeld platgeslaan maar het altyd weer opgestaan. Na die ABO was dit ook so. Toe die boere terug kom op die plase was daar niks. Dit het hulle nie onder gekry nie. Niks kry HIERDIE volk onder nie. Willie sien dieselfde ding gebeur in Bravoland. Willie sien die forum word oor gebou. Willie sien die hulp aan die volk wat verarm. Willie sien die spaarklub wat op die been kom. Willie sien die kultuurdag wat gereël word. Maar Willie sien meer. Willie weet dat niks van hierdie positiewe dinge sou gebeur het, was dit nie vir daardie een eienskap van ons volk, wat die vyande van die volk altyd onderskat nie. Dit was juis hierdie sterk eienskap van ons volk waarvan Oom Paul gepraat het: "Dit stem my eweneens tot dankbaarheid om te sien dat die eenheid, die eendrag by u regeer." Dit was juis hierdie eendragtigheid wat ons volk se redding was. Telkemale. Willie weet dat die Bravolander nodig het om die volgende woorde van Oom Paul te hoor: "Dit is waar dat baie van wat opgebou is, tans vernietig is, verniel, geval. Tog kan met eenheid van sin en eenheid van krag weer opgerig word wat tans ondergeploeg is." Die Bravolanders het dit reeds in Bravoland begin doen. Vandag Bravoland, môre die wêreld! Willie weet! Groetnis, Willie Weetals

Tuesday, February 19, 2008

Willie weet toe nie als nie...


Willie weet darem wanneer hy nie weet nie, of gedink het hy weet, maar toe moes uitvind dit wat hy gedink het hy weet, nie is wat hy moes weet nie. Willie weet, want Willie Weetals.... So was dit met Orania. Eintlik is dit nog steeds. Willie weet nie! Ten minste weet Willie as hy nie weet nie en maak nie soos sekere mense en maak of hy weet nie. Dit lyk my in elk geval dat niemand weet nie, alhoewel party maak of hulle weet. Al wat dié wat maak of hulle weet doen, is om die wat wonder deurmekaar te maak. Die wat maak of hulle weet, stem ook nie met mekaar saam nie en baklei lekker oor wie weet die beste. Dit is egter hulle probleem en hulle probleem los nie Willie se probleem op nie, dit maak dit net erger!! Willie is nie 'n boekhouer nie, maar Willie kan somme maak en die somme maak nie sin nie. 1991.....1994......17 jaar...18000 per jaar......2,5 miljoen........1 miljoen.....dit is al die nommers wat Willie moet maal en deel en optel en aftrek en iewers by 652 uit te kom. Willie het nou weer gaan kyk en die syfers is reg, die antwoord het Willie ook oor seker gemaak, dit is wragtig net 652....maar dit kan mos nie, Orania bestaan nou al iets soos 17 jaar, sedert 1992. In 1994 het die ANK die NSA oorgeneem en sedertdien het daar 18 000 mense per jaar gesterf. 'n Miljoen mense het die land verlaat en dit het tot gevolg dat slegs 2,5 miljoen Afrikaners oor is in die land.......en net 652 in Orania. Die veilige Orania wat nog geen misdaad gehad het in die laaste 17 jaar nie - nul, geen, niks! 652 Afrikaners wat geen kontak het met enige volksvreemdes nie, want daar is geen volksvreemdes nie! Orania waar dit volgens die Oraniërs klop disselboom gaan met hulle ekonomie, skole en boerderye, maar waar daar net 652 mense woon. Willie weet die antwoord lê iewers in die syfers, in die nommers. Iewers het Willie 'n syfer gemis..... Dan sak dit skielik op Willie neer soos die aandelebeurs wat in duie stort! 164 en 240 en nog erger 630!! Dit is die syfers wat die nommers af hou. Want sien, Orania is 164km van Kimberley en 240km van Bloemfontein en 630km van Johannesburg! Is Orania se goeie ligging, die rede dat Orania nie groei nie? Wie weet? Wat Willie wel weet, is dat Orania baie werk het as hulle 'n sukses wil maak. Hulle sukses word gemeet aan die syfers en 652 in 17 jaar is nie genoeg nie....

Saturday, January 19, 2008

Willie wil ook sien


Willie sien 'n ding kom, 'n ding waarvoor Willie al lankal wag. Dit beteken nou nie dat Willie nou Siener Weetals is nie, om Weetals te wees, beteken nie dat Willie die toekoms moet kan voorspel of "sien" nie. Daar het egter 'n paar dinge gebeur wat vir Willie beteken dat daar 'n ding kom, want Willie sien helder wat om hom aangaan maar dit beteken nie dat hy nou gesigte sien of heldersiende geword het nie.

Nou wonder die leser seker wat is die ding wat Willie weet wat kom, want die leser weet seker nie ook alles nie, Willie weet, want Willie Weetals...

Laat Willie egter by die begin begin, want dit is 'n baie beter plek om te begin as om by die einde te begin. Sienende dat dit iets is wat Willie gesien het, gaan Willie hierdie ding verduidelik soos iets wat iemand "gesien" het.

Willie sien 'n bult agter hom, hy loop tot bo-op die bult en sien in die verte 'n groot teerpad. Op die teerpad ry daar 'n oranje, wit en blou voertuig met 'n bleskop-man agter die stuur. Daar staan 'n menigte swart mense langs die pad wat opgelaai wil word. Die mense agter in die voertuig sê egter dat die bleskop-man hulle nie moet oplaai nie, want die mense agter in die voertuig het reeds betaal dat die menigte langs die pad hulle eie voertuie kan koop. Die mense langs die pad het egter nie mooi gekyk na hulle voertuie nie en die staan nou stukkend langs die pad. Die mense langs die pad is nou baie jaloers op die oranje, wit en blou voertuig. Weer betaal die mense agter in die voertuig om dié langs die pad se voertuie te laat regmaak. Die mense langs die pad kyk steeds nie mooi na hulle eie voertuie en wil graag die oranje, wit en blou voertuig hê.

Die bestuurder van die oranje, wit en blou voertuig is nou bang vir al die mense langs die pad, want hulle begin in die pad te dans en hy moet gereeld uitswaai. Van die mense agter in die voertuig sê dat hy oor hulle moet ry, want nou gooi hulle selfs klippe na die oranje, wit en blou voertuig. Die bleskop-man het nou 'n geel pak aan. Hy sê vir die mense agter in die voertuig dat hy net gou met die mense langs die pad wil praat, maar net as hulle ophou klippe gooi.

Hy stop die oranje, wit en blou voertuig en begin met die mense langs die pad te praat. Hulle druk 'n paar sente in sy hand en spring in die voertuig. Van die mense agter in die voertuig klim uit en spring op vliegtuie, weg – vir altyd! Ander word wreed by die voertuig uitgegooi. Die mooi pad is nou 'n grondpad, hoe verder die pad aangaan en nader kom aan Willie, hoe groter is die gate in die pad en hoe meer van die mense wat agter sit word wreed uitgegooi. Die voertuig is nie meer oranje, wit en blou nie, dit lyk nou soos 'n reënboog...

Dan snel die voertuig buite beheer verby Willie. Daar is nou nie meer 'n pad nie, die voertuig jaag sommer deur die veld. Van die mense agter in voertuig, wat nog die hele tyd aan die slaap was, word nou wakker, die een na die ander. Saggies begin hulle te kla dat die rit nou te rof is en dat te veel by die voertuig uitgegooi word. Ook kla hulle dat die eens mooi voertuig nie meer in so ’n goeie toestand is nie omdat die nuwe drywer nie na die voertuig kyk nie.

Die nuwe drywer luister nie na hulle nie, want hulle is baie en die wat agter sit is min...

Dan sien Willie 'n snaakse ding, die mense agter in die voertuig het nou hulle eie voertuig, dit is maar 'n klein voertuig, maar 'n mooi voertuig... dan word hierdie voertuig groter en die mense wat nog geslaap het agter in die reënboogvoertuig spring ook nou daarin. Die nuwe voertuig ry nou weer op 'n mooi gladde nuwe pad en in die verte sien Willie die ou voertuig het gebreek en staan nou doodstil...

Sunday, December 2, 2007

Sal die laaste een wat loop asb die ligte afskakel?



Willie sal graag wil weet (al is hy Weetals) wat gaan aan by Media24. Sien, die laaste paar weke het daar snaakse selfs skokkende dinge gebeur by Media24. Dit het alles begin met die sirkulasie syfers wat "gekook" is (met sulke goeie kookwerk moet hulle dalk daaraan dink om huishoudkunde boeke uit te gee), natuurlik is dit afgemaak as 'n onskuldige fout, maar Willie Weetals en Willie kon hulle seker die voordeel van die twyfel gee as dit nie was vir 'n paar desperate dinge wat gebeur het nie.
Die aanstelling en trekpas wat Deon Maas gekry het is maar een hiervan. Rapport moes tog geweet het en het dit tien teen een gedoen juis oor die kontroversie wat die man gaan veroorsaak. Kontroversie verkoop koerante. Toe daar egter gedreig is om die koerant te boikot, toe word daar skielik aangekondig dat hy in die pad gesteek word. Tog is hy steeds by die groep, die keer net by Sondag, nog 'n publiekasie van Media24. Willie vermoed in elk geval dat Sondag gestig is om die Volk weer lus te maak vir koerant lees op Sondag en die hoop was seker dat die Volk dan eerder Rapport sal koop as Sondag.

Willie wonder ook of Rapport bang is dat die Volk eerder Sondag kerk toe gaan as om koerant te lees, die dat Rapport en Beeld nou die Christelike geloof aanval. Willie wonder maar Willie Weetals.

Nou word selfs die buitelewe joernalis Dana Snyman (die uwe, Pottie Potgieter) ingespan om kontroversie te ontlok in 'n artikel waar hy die spot dryf met Die Onse Vader. Dit word natuurlik gedoen onder die dekmantel van "vryheid van spraak" maar mens wonder tog hoe hulle met hulle gewetens saam leef. ‘n Mens wonder, maar Willie Weetals.

Asof dit nie erg genoeg is nie, word die feminus en Volkshater Christi van der Westhuizen, outeur van die boek "White Power & the Rise and Fall of the National Party" in gespan in Beeld om die Afrikaner te verneder en van rassisme aan te kla omdat hulle durf waag het om te kla oor Maas se artikels. Ook bly die Christelike geloof nie ongeskonde nie, sy vertel met smaak dat dit 'n verskoning is om rassisties te wees. Willie wonder of sy saam met Koos Kombuis bedank het as Afrikaner, as sy het, kan die Afrikaners haar seker aan klae van rassisme. Dit is mos net swart mense wat nie rassiste kan wees nie, ‘n eks-Afrikaner kan dan mos van haatspraak aangeklae word. Sien, Willie Weetals.

Willie probeer hard om die feit te vergeet dat die groep so diep ingekruip is by die ANK dat dit nou al gewoonte geword het om die Afrikaner op enige denkbare manier te verkleineer nie, Willie probeer, maar ongelukkig Willie Weetals! Die Pretoria uitgawe van Beeld is ook nie Pretoria-Beeld nie, maar Tshwane-Beeld, dit terwyl die Afrikaner eindelose gevegte het vir die behoud van Pretoria se naam. Is dit dan verbasend dat hulle sirkulasie syfers val? Nie vir Willie nie, Willie Weetals!!

Desperate mense doen desperate dinge, maar beteken dit dat 'n mens moet dom dinge doen? Hoe kan 'n Afrikaanse koerant groep daarop uitgaan om hulle grootste ondersteuners basis, die Afrikaners, te vervreem? Selfs Willie verstaan dit nie.

Daar is soveel positiewe dinge wat gebeur in Afrikaner geledere, maar daarvan lees mens nooit in die groep se koerante nie. Al wanneer hulle enige iets skryf oor CVO skole of Radio Pretoria is wanneer dit negatief is. Oor Geloftefeeste swyg hulle ook asof daar nie so iets is nie. Die beste van alles was die optog na die ANCBC, wat reg voor hulle kantore verby is en waaroor daar ook niks gese is nie. As hulle nie weet van die dinge nie, moet hulle net vra, Willie Weetals.

Die uurglas is besig om leeg te loop vir die groep, maar hulle sal seker wakker skrik wanneer dit te laat is.Krag is skaars in Afrika dus hoop Willie hulle onthou hierdie boodskap: "Sal die laaste een wat Media24 verlaat asb die ligte afskakel?"


Groetnis,

Willie Weetals.